Ian van Zyl Stamregister

Ian van Zyl Stamregister

Vir al die mense vat gevra het dat ek die informasie met julle deel, jammer vir die oponthoud.  Dit is a baie lang dokument, lees maar so ver julle wil.

Hoop julle vind baat in die dokument.

 

PROJEK VAN ZYL STAMREGISTER

 

Lidnommer 300 62 A1

 

 

IAN VAN ZYL

 

 

VERKORTE STAMREGISTER (MANLIKE LINIE VAN VADERSKANT)

[‘N VOORLOPIGE DOKUMENT]

 

 

Die Van Zyls van Suid-Afrika stam almal af van een stamvader, Willem van Zijl, wat hieronder as die ‘a’-geslag aangedui word.  Willem en sy vrou, Christina van Loveren (die Van Zyls se stammoeder) se kinders verteenwoordig die eerste geslag Suid-Afrikaanse Van Zyls en word as die ‘b’-geslag aangegee, hulle kinders weer as die ‘c’-geslag, ensovoorts.  Willem en Christina het agt kinders gehad, waarvan sy vier seuns (van oudste tot jongste) Albertus (b2), Johannes (b3), Gideon (b4) en Pieter (b5), die Van Zyl-geslagte in Suid-Afrika sou voortsit.

 

Tot ongeveer 1900 het alle Van Zyls in Suid-Afrika hulle van “Van Zijl” geteken of geskryf, maar baie Van Zyls het in die loop van die twintigste eeu hulle van na die Afrikaanse vorm: “Van Zyl” verander. ’n Klein persentasie van die Van Zyl-familie het die oorspronklike spelling van hulle van, naamlik “Van Zijl”, behou.

 

 

STAMVADER

 

  1. WILLEM VAN ZIJL, gebore Delft, Nederland, 1668, emigreer na en arriveer aan die Kaap op 23/01/1699, oorlede Paarl, 08/03/1727, wyn- , graan- en veeboer, boer op die plaas Vrede-en-Lust (die grootste deel daarvan vandag deel van die wynlandgoed Plaisir de Merle) by Simondium teen die oostelike hang van Simonsberg, getroud Oude Kerk, Amsterdam, op 28/11/1694 met Christina van Loveren, gedoop Amsterdam, 07/06/1673, oorlede Kaapstad, 1730 (STAMMOEDER VAN DIE VAN ZIJLS/VAN ZYLS). Die bekende Van Loveren Wynlandgoed tussen Robertson en Bonnievale is na die stammoeder vernoem op aandrang van wyle Jean Retief (gebore Van Zijl), Van Zyl-matriarg

Van die Retief-familie van Van Loveren Wynlandgoed

 

[Willem, wie se oupa en vader tinsmede in Nederland was, is as tuinier opgelei. As ’n jongman het hy na Amsterdam verhuis waar hy Christina ontmoet en met haar getroud is. Kort na hulle huwelik het Willem en Christina na Haarlem verhuis waar hulle oudste kind, Willemina, in Oktober 1695 gedoop is.  Ongeveer twee jaar later, is hulle tweede kind en oudste seun, Albertus, gebore op die dorp Velsen naby Haarlem.  In 1698 het Willem in diens van die VOC (kortweg die Kompanjie) getree en is hy aangestel om as onder-baastuinier aan die Kaap diens te gaan doen.  Op 22 September 1698 het Willem met sy vrou en die twee oudste kinders, Willemina en Albertus, na die Kaap vertrek met die skip De Drie Croonen, wat deel van die vloot was waarmee ook Willem Adriaan van der Stel, die nuwe Kaapse goewerneur, na die Kaap sou vaar. Na ’n gevaarlike bootreis van vier maande het Willem en sy gesin op 23 Januarie 1699 veilig by die Kaap aangekom.

 

Na slegs ongeveer vier jaar diens as baastuinier op die Kompanjiesplaas Rustenburg (vandag Rondebosch) het Willem uit die diens van die Kompanjie getree en vryburger geword. In 1702 het hy eers die helfte en die volgende jaar die ander helfte van die plaas Vrede-en-Lust by Simondium aan die oostelike hang van Simonsberg naby die Paarl gekoop en hom hier op wynbou en graanbou toegelê.  Hy het ook beeste en skape aangehou welke getalle mettertyd so aangegroei het dat hy van 1707 af weilisensies uitgeneem het om sy vee op stukke grond in die Swartland en die Vier-en-twintig-riviere (Gouda-omgewing) te laat wei.

 

Vir sy tyd het Willem ’n relatief welvarende boer geword en ook ’n gesiene leier veral in die Drakensteingebied wat hy as heemraad in die Stellenbosse Kollege van Landdros en Heemrade verteenwoordig het.  In 1706 was Willem een van die vryburgers wat teen die wanadministrasie van Willem Adriaan van der Stel in opstand gekom het.  Lasbriewe is vir hulle arrestasie uitgereik, maar Willem en ’n paar van  sy mede-opstandelinge kon nie opgespoor word nie omdat hulle in die berge naby Gouda gaan skuil het.  In hulle afwesigheid is stamvader Willem en sy mede-opstandelinge na Mauritius verban  ­­-  ’n vonnis wat nie uitgevoer is nie omdat Van der Stel vroeg in 1707 weens sy wanadministrasie deur die Here XVll na Nederland teruggeroep is en die burgers daarna van hulle strawwe kwytgeskeld is. Willem is op 8 Maart 1727 oorlede.  As Willem se erfgenaam het Christina Vrede-en-Lust die volgende jaar verkoop en in Tafelvallei (die latere Kaapstad) gaan woon waar sy en Willem ’n huis gehad het.  Hier is Christina in 1730 oorlede.

 

Willem en Christina het eventueel  agt kinders gehad waarvan sy vier seuns, Albertus (b2), Johannes (b3), Gideon (b4) en Pieter (b5), almal veeboere in die Kaapse binneland geword het.

 

IAN stam af van  Gideon (b4). [SIEN EERSTE GESLAG].

 

IAN se Suid-Afrikaanse Van Zijl-voorvaders van Gideon af word vervolgens hieronder weergegee:

 

 

EERSTE GESLAG

 

 

b4.  GIDEON VAN ZIJL, gedoop Paarl 09/12/1703, burger Drakenstein, getroud Paarl 20/11/1729 Maria Elizabeth van Eeden, gedoop 19/04/1711, dogter van  Jacobus van Eeden en Regina Christina Deetlof

 

[Gideon was die vierde kind en die jongste van vier seuns van stamvader Willem van Zijl en sy vrou, Christina. Gideon en sy broer net ouer as hy, Johannes,  is met twee Van Eeden-susters getroud. Soos sy ander broers, het Gideon grootgeword op hulle vader se wingerdplaas by Simondium maar as seuns en jongmans het hulle ook goeie ondervinding van hulle vader se veeboerdery op sy verskeie weidingsplase in die Swartland opgedoen. Terwyl  Albertus en Pieter – onderskeidelik die oudste en jongste broers – relatief welvarende veeboere in die Noordweste geword het in die omgewing van die huidige Klawer, Vredendal en Vanrhynsdorp, het Gideon en Johannes gedurende die dertigerjare van die agtiende eeu deelgeneem aan die geleidelike trekbeweging en vestiging van die veeboere in ’n oostelike rigting in die Breëriviervallei af en verder na die oostelike grensgebiede.  Johannes en die eerste van sy nageslagte het hulle eventueel langs die Olifantsrivier (in die omgewing van die huidige Oudshoorn) gaan vestig terwyl ander hulle gaan vestig het aan die Gamkarivier in die omgewing van die huidige Prins Albert.

 

Gideon, IAN se Suid-Afrikaanse voorvader, en sy eerste nasate het hulle gaan vestig in die huidige Robertson/McGregor/Ashton/Bonnievale-omgewing. Aanvanklik het Gideon Goree wat aan die Breederivier grens (ongeveer tien  kilometers suid, dws aan die Worcesterkant van die huidige Robertson) in lening ontvang, maar hom ’n paar jaar later permanent gaan vestig op die leningsplaas Langverwacht wat hy op 24 Januarie 1741 van die Kompanjie-regering aan die Kaap ontvang het.  Die plaas het hy aangelê aan die Bosjemans Rivier (’n riviertjie wat in die Riviersonderendberge ontspring en aan die oostekant in die Breederivier uitmond ongeveer drie kilometers van die huidige Bonnievale). Gideon se manlike nageslagte, waarvan sommige Langverwacht vir die volgende meer as twee eeue as eiendomsplaas besit het, het aanvanklik slegs as veeboere, maar later ook as  suiwel- en wingerdboere, ’n prominente rol in die Bonnievale-omgewing gespeel.

 

Gideon en sy vrou, Maria, het nege kinders gehad, ses seuns (Willem Jan, Jacobus, Frederik, Jacobus Albertus, Johannes en Gideon) en drie dogters.  IAN stam af  van hulle vierde kind en vierde oudste seun, Jacobus Albertus [SIEN TWEEDE GESLAG]

 

 

TWEEDE GESLAG

 

b4.c4. JACOBUS ALBERTUS VAN ZIJL, gedoop Paarl, 09/10/1738, as burger van die (ou) distrik Swellendam, getroud op Tulbagh 25/12/1763 Zacharia Geertruy Gildenhuizen, gedoop 05/011/1741, weduwee van Bastiaan Rabie, dogter van Hendrik Gildenhuizen en Cornelia Swart

 

[Volgens die Oude Wildschutte Boek van 1772 in die Kaapse Argiefbewaarplek  het Jacobus Albertus Goree op 20 April 1772 by sy vader oorgeneem nadat laasgenoemde dié plaas prysgegee het. Jacobus Albertus en sy broers het mettertyd almal ander leningsplase in die Klein Karoo en die ou Swellendamse distrik aangeskaf.  In die geval van Jacobus Albertus het hy benewens Goree ook Zandvliet naby die huidige Ashton nog voor die einde van die agtiende eeu in lening verkry. Laasgenoemde plaas  was vir meer as ’n eeu lank in sy en sy onmiddelike nageslagte se besit voordat dit eventueel oorgegaan het in die familie De Wet se hande wat dié plaas gedurende die laaste dekades van die twintigste eeu tot ’n vooraanstaande wynlandgoed ontwikkel het, vandag bekend as Zandvliet Landgoed.

 

Jacobus Albertus en sy vrou, Zacharia, het dertien kinders gehad, sewe seuns (Gideon, Hendrik, Frederik Jacobus, Jacobus Albertus, Barend, Wilhelmus Johannes en Petrus Arnoldus) en ses dogters.

 

IAN stam af van Frederik Jacobus, negende kind en derde seun van Jacobus Albertus en Zacharia [SIEN DERDE GESLAG]

 

 

DERDE GESLAG [OOR-OOR-OOR-OUPAGROOTJIE]

 

b4.c4.d9  FREDERIK JACOBUS (‘GROENTEBOER’) VAN ZIJL, gedoop Tulbagh, 28/12/1778, oorlede 15/08/1857, getroud Kaapstad 21/11/1802 Johanna Wilhelmina Steyn, gedoop 06/10/1781, oorlede Swellendam, 25/03/1853, dogter van Johannes Steyn en Barbara Wilhelmina Vogel

 

[Frederick Jacobus (Groenteboer) se huwelik met Johanna Steyn in 1802 het beteken dat hy in die bekendste familie in die ou distrik Swellendam op daardie stadium, die Steyns, ingetrou het.  Die Steyns was teen die einde van die agtiende eeu en die begin van die negentiende eeu welbekende boere in die Swellendam/Bonnievale-area wat op plase soos Bruyntjies Rivier, Kliprivier, t’Voorhuis, Jan Hermans Gat en Sanddrift geboer het.  Hermanus d’Oude Steyn was die oupa van Groenteboer se vrou (Johanna Wilhelmina Steyn). Hermanus d’Oude, wat alreeds in 1743 op die plaas Bruyntjes Rivier begin boer het, was ’n leierboer  en vir  verskeie termyne heemraad van die Swellendamse Kollege van Landdros en Heemrade terwyl Johanna se oom, Hermanus d’Jonge, seun van Hermanus Steyn d’Oude, wat op die plaas Jan Harmens Gat geleë ongeveer 20 kilometers noord van die huidige Bonnievale,  geboer het, ook ’n heemraad van die laasgenoemde Kollege was.  In 1795, kort voor die Eerste Britse Besetting van die Kaap, is Hermanus d’Jonge verkies tot president van die kortstondige ‘Republiek’ van Swellendam wat teen die Kaapse regering in opstand gekom het. Johanna, met wie Groenteboer van Zijl in 1802 getroud is, was die dogter van Johannes Steyn, ’n jonger broer van Hermanus D’Jonge, wat ook ’n heemraad van die Swellendamse Kollege van Landdros en Heemrade was.

 

Volgens ’n artikel in Village Life No. 21, Desember 2006/Januarie 2007, geskryf deur Annalize Mouton, het Hermanus D’Jonge op sy plaas Jan Harmens Gat in 1804 gesterf waar hy ook begrawe is. ’n Paar jaar later, in 1808, het Groenteboer van Zijl in besit gekom van Jan Harmens Gat sowel as Zanddrift.  Hier het Groenteboer op die waterryke plase ’n vooraanstaande veeboer geword en hom blykbaar ook op groenteboerdery toegelê waaraan hy sy bynaam te danke het.  Hy was ook die grootste wynboer in die omgewing van Swellendam en Bonnievale en het teen 1826 ongeveer 25 000 wingerdstokke aangeplant gehad, en 14 lêers wyn en twee lêers brandewyn geproduseer (Sien D.J. van Zyl: Kaapse Wyn en Brandewyn, 1795-1860, p. 340).

 

Groenteboer Van Zijl en sy vrou het sewe kinders gehad, vyf seuns (Jacobus Albertus, Johannes Wilhelm, Frederik Jacobus, Hermanus Christiaan en Gideon Petrus) en twee dogters (Barbara Isabella en Zacharia Geertruy).

 

Groenteboer se jongste kind en seun, Gideon Petrus (gebore 1815 op Jan Harmens Gat het voor Groenteboer se afsterwe in 1857, waarskynlik enkele jare na Gideon se huwelik in 1835, die eienaar van Jan Harmens Gat geword.  Om een of ander rede het hy dié plaas se naam na Nooitgedacht verander.  Volgens familieoorlewering was hy ’n welgestelde man maar ook ’n bietjie windmakerig en het moontlik die plaas se naam verander omdat hy nie daarvan gehou het nie en ‘Nooitgedacht’ meer by sy status gepas het!

 

Gideon en sy vrou, Cornelia Geertruida Badenhorst, het dertien kinders gehad, vier seuns en nege dogters.  Twee van sy seuns het prokureurs geword. Sy vierde kind en tweede seun, Casper Hendrik (1842 – 1913), was detyds een van Suid-Afrika se bekendste prokureurs.  Hy het in Kaapstad gepraktiseer en was een van die eerste Afrikaners, indien nie eerste een nie, wat ’n doktorsgraad in Regte verwerf het.  Hy was ook die skrywer van ‘Judicial Practices in South Africa’ op welke gebied hy ’n kenner was.  Casper se oudste seun, Gideon Brand (1873 – 1956), wat hom ook as prokureur bekwaam het en by sy vader se Kaapstadse regspraktyk aangesluit het, was die eerste Suid-Afrikaansgebore Goewerneur-generaal van die Unie van Suid-Afrika.

 

Een van Gideon se jonger seuns, en dus broer van Casper, naamlik Jacobus Albertus, het hom ook as prokureur bekwaam, maar omdat hy Nooitgedacht geërf het, het hy boer geword.  Hy was egter nie ’n wafferse boer nie.  Volgens familie-oorlewering het hy die meeste van sy tyd in sy huis deurgebring waar hy daagliks  urelank net gelees het, onder meer ensiklopedieë, in plaas daarvan om toe te sien dat aartappels geplant en uitgehaal word! Sy hoë geleerdheid as boer vir sy tyd en sy leesgier, het hom mettertyd die reputasie van ‘Ou Meester’ laat kry. Die boerdery op die plaas het gevolglik gedurende sy leeftyd agteruit gegaan. As gevolg hiervan, en die heersende swak ekonomiese toestande gedurende die sestiger- en sewentigerjare het meegegring dat Ou Meester eventueel finansieel nie kon oorleef nie en het daartoe gelei dat Nooitgedacht in 1876 op ’n openbare vendusie verkoop is en uit die Van Zyls se hande gegaan het.

 

IAN stam af van Groenteboer van Zijl se derde kind en tweede seun, Johannes Wilhelm [SIEN VIERDE GESLAG]

 

 

VIERDE GESLAG [OOR-OOR-0UPAGROOTJIE]:

 

b4.c4.d9.e3  JOHANNES WILHELM (HANS) VAN ZIJL, gebore op sy oupa, Jacobus Albertus, se plaas Goree, Cogmanskloof (naby die huidige Robertson), 24/02/1807, gedoop Swellendam, 31/07/1807, getroud Swellendam, 02/01/1825 Hester Susanna van Eeden, 15 jaar, van Bosjesmanspad (ongeveer 20 kilometers noord van die huidige Bonnievale), dogter van J.A. van Eeden en J.E. Cilliers, as 19-jarige wewenaar hertrou op Swellendam, 01/04/1826 Geertruida Anna Geldenhuys, dogter van H.J. Geldenhuys, dogter van H.J. Geldenhuys en Sara Johanna Odendaal.

 

 [Hoewel Johannes Wilhelm op Goree naby die huidige Robertson gebore is, het hy, soos sy broers en susters, op Jan Harmes Gat, wat sy vader in 1808, dws ’n jaar na Johannes Willem se geboorte, bekom het, grootgeword. Wat opvallend is, is dat hy met sy eerste vrou, Hester Susanna van Eeden, getroud is toe hy maar 19 jaar oud was en sy bruid 15 jaar.  Sy is binne die eerste jaar van hulle huwelik oorlede, waarskynlik met die geboorte van hulle eerste kind wat ook nie oorleef het nie.  Binne ’n jaar daarna, op 19-jarige ouderdom, is Johannes Wilhelm vir die tweede keer getroud met Geertruida Anna Geldenhuys.

Johannes Wilhelm (Hans) en sy jong vroutjies was na hulle huwelike gedurende die laat-twintigerjare van die 19de eeu vir ’n jaar of twee op Jan Harmes Gat woonagtig waar hy klaarblyklik sy vader, Groenteboer, met sy boerdery-bedrywighede bygestaan het.  Daar was egter op daardie stadium verskeie broers van Hans woonagtig ingeslote sy jongste broer, Gideon Petrus, wat eventueel die plaas sou erf.  Gevolglik het Hans teen die einde van die twintigerjare besluit om eerder die plaas te verlaat en ’n trekboer/veeboer in die Karoo te word met’n kernkudde skape en ’n paar beeste en perde  wat sy vader waarskynlik aan hom van jongsaf toegewys het, soos die normale gebruik destyds was.  Dat hy ’n paar jaar lank in die Karoo deurgebring het, word bevestig deur die doopplekke van sommige  van Hans se oudste kinders: Susara op Colesberg op 26 Februarie 1829, en Hendrik Jacobus op Cradock op 12 Julie 1831.

 

Uit beskikbare gegewens word afgelei dat Hans teen die einde van 1831 uit die Karoo teruggekeer en met sy paar honderd stuks vee begin boer het op die historiese plaas Hoopsrivier (waar die latere Robertson aangelê sou word) wat alreeds in 1710 as leningsplaas uitgereik is aan die eerste blanke veeboer in daardie geweste, naamlik Pieter Joubert. Dié plaas, amptelik geregistreer as “Over ‘t roode Sant genaamt de Hoops revier” (kortweg Hoopsrivier) was later (van 1770 af tot die eerste dekades van die die negentiende eeu) die leningsplaas  van die Fouché-familie. 

 

Hans se betrokkenheid by Hoopsrivier sowel as by die latere stigting van die dorp Robertson en die totstandkoming van die N.G.-gemeente op dié plaas in 1853, kan afgelei word uit die boek van A.H. Tromp wat in 1953 verskyn het oor die honderdjarige bestaan van die dorp en die N.G. Gemeente Robertson [Vgl. A.H. Tromp: Robertson, 1853-1953 (Gedenkboek by geleentheid van die honderdjarige bestaan van die dorp en die N.G. Gemeente Robertson), uitgegee deur die Eeufeeskomitee van Robertson, 1953].

 

Volgens Tromp (bladsy 5) het Gustavus Wilhelmus Fouché alreeds in 1816, dws drie jaar nadat die nuwe grondstelsel (die ewigdurende erfpagstelsel) die nuwe amptelike grondstelsel van die Kaapkolonie geword het (wat die leningsplaasstelsel vervang het en aan die eienaar eiendomsbesit en erfreg verseker het) by die owerheid aansoek gedoen om Hoopsrivier en ’n oop stuk aangrensende stuk kroongrond aan hom as ’n ewigdurende erfpagplaas te transporteer.  Ongelukkig het dit destyds weens administratiewe rompslomp tot twee dekades of langer geneem vir die owerheid om daad by die woord te voeg en die nodige goedkeuring te verleen.

 

Weens die jarelange vertraging het Gustavus Fouché vermoedelik reeds voor 1830 die grootste gedeelte van Hoopsrivier aan Frederik Jacobus (Groenteboer) en Hans se vader, ‘verkoop’ wat op die plaas begin boer het terwyl vir amptelike goedkeuring gewag is.  Eers in 1831, dws vyftien jaar nadat Fouché aansoek gedoen het vir die omskakeling van Hoopsrivier na ’n ewigdurende plaas, het die siviele kommissaris van Swellendam, Harry Rivers, vir die eerste keer amptelik aan die saak aandag gegee en in ’n verslag kommentaar daarop gelewer, aldus Tromp (bladsy 5). Volgens Rivers was die erfplaas 2 999 morge groot. Op die kleinere leningsplaasgedeelte was daar vir nege maande van die jaar weiding vir 20 beeste, 10 perde en 300 skape en bokke terwyl op die oop stuk aangrensende stuk kroongrond wat deel sou word van die ewigdurende erfplaas daar vir die hele jaar weiding vir 25 beeste, 10 perde en 300 skape was.

 

Eers op 1 November 1838 is die ewigdurende erfplaas aan sy eienaars getransporteer:  aan Frederik Jacobus van Zijl: vier-vyfdes van die plaas en aan Stephanus Jacobus Fouché (waarskynlik ’n seun van Gustavus Wilhelmus Fouché): een-vyfde.  Groenteboer het dus  ongeveer 2 400 morg van die plaas besit maar het hoogs waarskynlik kort daarna ook die res gekoop want die Fouchés sou nie op hulle klein stukkie grond ’n bestaan kon maak nie en het hulle kort daarna volgens beskikbare inligting by McGregor gaan vestig.  Op Hoopsrivier het Hans met sy veekudde geboer en ook waarskynlik omgesien na die veekudde van sy vader.

 

Volgens inligting wat Tromp (bladsy 5) verstrek, kan afgelei word dat Hans tussen  Augustus 1839 en Junie 1851, dws tot enkele jare voor die afsterwe van Groenteboer in 1857, Hoopsrivier stuk vir stuk van sy vader gekoop of vir vee verruil het.

 

Rondom 1853 het daar ’n dramatiese wending ingetree wat die eiendomsbesit van ’n  groot gedeelte van Hoopsrivier betref.  Daar het op hierdie stadium ’n dringende behoefte by die omgewing se groeiende getal lidmate van die N.G. Kerk bestaan om vir hulle in hul onmiddellike omgewing ’n eie gemeente tot stand te bring en ook om ’n dorp te stig omdat hulle tot op daardie stadium aangewese was op hulle tradisionele gemeente en dorp op Swellendam wat relatief ver van hulle geleë was. Vir dié doel het inwoners, waarskynlik almal lede van die N.G. Kerk, ’n Raad van Direkteure aangewys om ’n geskikte stuk grond vir die oprigting van ’n gemeente en die stigting van ’n dorp te ondersoek.  Hans het die helfte van Hoopsrivier vir dié doel aangebied en op 19 Januarie 1853  het hy 1 525 morge van die plaas aan die Raad van Direkteure vir £4 200 verkoop wat vir die tyd ’n buitengewone groot bedrag was. Die koop van die grond is deur 26 boere geborg.  Nog in dieselfde jaar is die dorp gestig en 199 erwe verkoop en is met die bou van die kerk begin ten opsigte waarvan Hans ’n prominente rol gespeel het (Tromp, op. cit., pp. 14, 15 en 18)  

 

Die verkoop van die helfte van Hoopsrivier teen, vir die tyd, ’n buitengewoon groot bedrag het van Hans ’n besonder welgestelde man gemaak.  Dit is moontlik dat hy vir ’n paar jaar lank voortgegaan het om op die res van Hoopsrivier te boer voordat hy die grond en waarskynlik ook die boerdery aan sy oudste seun, Frederik Jacobus [IAN SE OOR-GROOTVADER, SIEN VYFDE GESLAG) oorgedra het en dat hy daarna op die nuwe dorp Robertson afgetree het.  Hier het hy vir hom ’n dubbelverdiepingwooonhuis laat bou wat as Rob Roy Villa bekend gestaan het wat na sy dood omskep is in ’n seunskoshuis. (Tromp, op. cit., p. 106)]

 

Uit die huwelik van Johannes Wilhelm en sy tweede vrou, Geertruida Anna Geldenhuys, is nege kinders gebore, vier seuns (Frederik Jacobus, Hendrik Jakobus, Johannes Wilhelm en Adriaan Izak) en vyf dogters.

 

IAN stam af van Hans se oudste seun, Frederik Jacobus (SIEN VYFDE GESLAG):

 

 

VYFDE GESLAG (OOR-OUPAGROOTJIE):

 

b4.c4.d9.e3.f1 FREDERIK JAKOBUS VAN ZIJL, gebore Jan Harmes Gat, enkele kilometers noord van die huidige Bonnievale, 20/03/1827, gedoop Swellendam, 29/04/1827, oorlede Bosjesmansrivier, 09/10/1908, as 19-jarige jongman van Hoopsrivier (die latere Robertson) getroud Swellendam, 25/08/1845, met die vyftienjarige Anna Maria Cilliers, gebore 30/11/1829, jongedogter van die plaas Vrolikheid naby die huidige McGregor (dogter van Abraham Cilliers en Susanna Johanna Marais), oorlede Bosjesmansrivier, 28/09/1897.

 

[Die jong egpaar het hulle ongetwyfeld vir etlike jare gevestig op Frederik Jakobus se vader, Hans se plaas, Hoopsrivier, waar hy sy vader met sy veeboerdery bygestaan het, ook nadat die die helfte van die plaas in 1853 vir die stigting van Robertson en die oprigting van die N.G. Kerk aldaar verkoop is.

 

Rondom 1860 of selfs vroeër (die presiese datum moet nog vasgestel word wat moontlik deur Johan van Zyl van die Paarl – ook ’n agter-agterkleinkind van Frederik – verskaf kan word) het Frederik die eienaar geword van die  plaas Bosjesmansrivier naby die huidige Bonnievale, geleë teen die gelyknamige rivier en een van die drie plase teen die rivier wat in die Breederivier uitmond waarvan die een teen dié rivier die plaas Langverwacht is wat reeds in 1741 aan Gideon van Zyl (SIEN EERSTE GESLAG] uitgereik is.  Volgens grondakte-dokumente wat Aveline Rossouw, eggenote van die huidige eienaar van Bosjesmansrivier, voorsien het, het Frederik op 13 Desember 1860 ook ’n groot gedeelte (1 227 morge) van die aangrensende plaas, Oudekraal,  langs die Boesmansrivier gekoop.

 

Wat die presiese beweegredes vir Frederik was om Hoopsrivier ten gunste van Bosjesmansrivier te verlaat, is op hierdie stadium nie bekend nie.  Dit mag wees dat laasgenoemde plaas beter bestaansmoontlikhede gebied het.  Hoe die koop van die plaas gefinansier is, is ook nie bekend nie.  Dit is moontlik dat Frederik dit met die opbrengs  van die verkoop van Hoopsrivier gefinansier het of dat hy in dié verband gehelp is deur sy welgestelde vader. Dieselfde oorwegings geld vir die aankoop van die gedeelte van Oudekraal.

 

In die afwesigheid van die moontlike lig wat Johan van Zyl op die vroeë eienaarskap van Bosjesmansrivier kon werp, het Aveline Rossouw wat die familiegeskiedenis van die Rossouws navors maar ook kennis dra van voormalige Van Zijl-leningshouers/eienaars van Bosjesmansrivier interessante kommentaar gelewer. Volgens haar is dit waarskynlik dat dié plaas oorspronklik die leningsplaas was van Frederik van Zijl, gedoop 1736 (grootoom van FREDERIK, GEDOOP 1827). Hierdie eersgenoemde Frederik was die  oudste seun van Gideon (wat die leningshouer van die buurplaas Langverwacht was). Na Frederik se vroeë afsterwe het ’n ander seun van Gideon, Jacobus Albertus, gedoop 1770 (FREDERIK SE OUPA)  leningshouer van Bosjesmansrivier geword (dieselfde persoon wat ook die leningshouer van Goree by die latere Robertson was).  FREDERIK het dus noue familiebande met hierdie twee voormalige eienaars van Bosjesmansrivier gehad en dit kan waarskynlik as ’n belangrike bykomende beweegrede beskou word vir sy aankoop van  Bosjesmansrivier.

 

Hoe dit ook al sy, FREDERIK het die res van sy lewe as veeboer op Bosjesmansrivier gewoon.  Hier is hy op 9 Oktober 1908 oorlede en op die plaas begrawe.  Ook sy vrou, Anna, wat op 28 September 1897 gesterf het, is daar begrawe, aldus inligting wat Aveline Rossouw verstrek het. (Vgl haar foto van die grafsteen waarop die lewensbesonderhede van Frederik en Anna voorkom).

 

Uit die huwelik van FREDERIK en Anna is nege kinders (sewe seuns: Johannes Willem, Abraham Albertus, Frederik Jacobus, Johannes Stephanus, Hendrik Jacobus Gildenhuys, Jacob Petrus en Adriaan Izak) en twee dogters gebore.

 

IAN stam af van die tweede kind en seun van Frederik en Anna, naamlik Abraham Albertus (IAN SE OUPAGROOTJIE. SIEN SESDE GESLAG).

 

 

SESDE GESLAG (OUPAGROOTJIE):

 

b4.c4.d9.e3.f1.g2  ABRAHAM ALBERTUS VAN ZIJL, gebore Hoopsrivier, 05/03/1849, (oorl. 16 Desember 1926) gedoop Swellendam, 09/04/1849, as 25-jarige jongman getroud Swellendam 14/04/1874 met Cornelia Margaretha Streicher, 18-jarige dogter van  Pieter Emelius Streicher waarskynlik van die plaas Thornlands naby Swellendam.

 

[Abraham het sy vroegste jeugjare op Hoopsrivier deurgebring en later op Bosjesmansrivier. Omdat hulle vader, Frederik, soos afgelei, tot sy sterfdag vasgeklou het aan sy eienaarskap van die plaas was daar nie vir alle seuns voldoende bestaansmoontlikhede nie.  Gevolglik het ’n paar van die  seuns vroeg na hulle onderskeie huwelike hulle heenkome op ander plase in die omgewing gaan soek. ’n Uitsondering was dat een van die jonger broers van Abraham, naamlik Frederik Jacobus, op 24 Desember 1886 saam met sy vader ’n verdere 897 morge van Oudekraal gekoop het waarvan Frederik Jacobus jr. ’n paar jaar later die alleeneienaar geword het.  Dit wil ook voorkom of Adriaan Izak later ’n gedeelte van Oudekraal bekom het.

 

In die geval van Abraham, IAN se oupagrootjie, het hy hom alreeds enkele jare na sy huwelik, rondom 1882, gaan vestig op die plaas Thornlands naby Swellendam wat waarskynlik oorspronklik die plaas van sy skoonvader, Pieter Emelius Streicher, was. Teen 1906 was Abraham nog steeds hier gevestig.

 

Uit die huwelik  van Abraham en Cornelia is tien kinders gebore waarvan die vier oudstes op Bosjesmansrivier gebore is en op Robertson gedoop is terwyl die ses jongstes op Thornlands gebore is en op Swellendam gedoop is. Daar was vier seuns:  Frederik Jacobus, Pieter Emelius, Abraham Albertus en Johannes Willem; en ses dogters.

 

IAN stam af van Abraham en Cornelia se derde kind en tweede oudste seun, Pieter Emelius [IAN SE OUPA. SIEN SEWENDE GESLAG]

 

 

SEWENDE GESLAG [OUPA]

 

b4.c4.d9.e3.f1.g2.h3  PIETER EMELIUS VAN ZIJL, gebore Bosjesmansrivier, 14/03/1878, gedoop Robertson 07/04/1878, (oorl. 6 Desember 1926) as 28-jarige landbouer van Driefontein, Dealesville, Oranjerivierkolonie, getroud op Swellendam op 24/04/1906 met Susanna Hermina Uys Kuntz, gebore 17/12/1879, 26-jarige jongedogter van die plaas Kiuka, Swellendam.

 

[Pieter Emelius, wat na sy oupa, Pieter Emelius Streicher, vernoem is, het sy vroegste jeugjare op Bosjesmansrivier deurgebring en daarna op Thornlands. Omdat daar klaarblyklik nie vir hom bestaansmoontlikhede op Thornlands was nie het hy gedurende sy middel-twintigerjare, soos baie ander kolonialers, na die einde van die Anglo-Boereoorlog in 1902 hulle heil in die noorde van die land gaan soek, in sy geval as boer in die Dealesville-omgewing op die plaas Driefontein in die Oranjerivierkolonie (soos die Vrystaat na 1902 bekend gestaan het). Vir sy huwelik het hy tydelik teruggekeer na Swellendam waar hy op 24 April 1906 met Susanna Hermina Uys Kuntz getroud is wat hy natuurlik tydens sy verblyf op Thornlands ontmoet het. Wat baie interessant is, is dat waarskynlik ’n vriend van hom wat op daardie stadium by Boshof in die Oranjerivier-kolonie geboer het, Lodewyk Theodorus Badenhorst, op dieselfde dag op Swellendam getroud is met een van Pieter se jonger susters, Anna Maria.

 

Pieter Emelius se besluit om in die Oranjerivierkolonie permanent te gaan vestig, en die feit dat hy en sy nageslag, wat IAN en sy vader insluit, nooit weer na die suidwestelike deel van Kaapland sou terugkeer nie was ’n historiese gebeurtenis in IAN se familiegeskiedenis want daarmee is die bande met die Robertson/Bonnievale/Swellendam-omgewing verbreek waar IAN se voorgeslagte vir meer as 160 jaar landboupioniers was]

 

Pieter Emelius het die plaas “Hermon” gelee in die distrik Boshof in die Oranje rivierkolonie (Transportakte #27072) van Jacobus Bernardus Moolman gekoop op 17 Junie 1909 vir 2612.00 pond. (Die oorspronklike transportakte is steeds in die besit van Ian van Zyl) Hier het hy met beeste, skape en bokke geboer tot sy vroee dood op die ouderdom van ???

 

 

AGSTE GESLAG (VADER):

 

b4.c4.d9.e3.f1.g2.h3.i?  ABRAHAM ALBERTUS VAN ZYL Gebore 10 Januarie 1910 op Boshof. ID # 1001105022088  Noemnaam “Apies” Tweede kind van sy ouers en enigste seun. Broer van ELIZABETH SOPHIA (“Bettie”) geb, 20 Maart 1907

Toe Apies 16 en Bettie 19 jaar oud was het hulle ouers binne 2 jaar van mekaar gesterf – dit was natuurlik ‘n groot slag vir die kinders maar hulle het ontsettende deurslagvermoee gehad en Apies het selfs op 16-jarige ouderdom ‘n spesiale bestuurders lisensie bekom om die boerdery te kan voortsit. Hy het selfs  ingeskryf om ‘n Landbougraad kursus op Stellenbosch Universiteit te doen maar ten oorsaak van die droogte en die groot depressie moes hy dit laat vaar. Apies is   getroud met Elizabeth Johanna Agatha Jooste (gebore op die plaas “Brakpan” op 11 Oktober 1910) (noemnaam “Bessie”) in die Newton NG Kerk Kimberley op die 24ste September 1935. Bessie was afkomstig van die plaas Hanskopsfontein, ongeveer 40 tot 50 kilometers noord van Kimberley. ABRAHAM en ELIZABETH het twee kinders gehad, nl PIETER EMELIUS gebore Kimberley 13 September 1936 en IAN, gebore 9 April 1946 ook op Kimberley.

 

 (Hierna skryf Ian self die res van die familie geskiedenis)

 

My ouers het verkeie plase gekoop, verbeter, draad gespan, geboor vir water en dan weer verkoop, onder meer “Rabenthal” “Eikeboom” en later “Bonnievale” asook “Welgevonden” (almal in die Boshof distrik van die OVS) asook “ Never Nickle” in die Ghaapse Berg naby Schmidtsdrift. Uit sy boerdery aktiwiteite en koop en verkoop van eiendom het my vader later ‘n welgestelde boer en sakeman geword en my ouers het hulle later in Kimberley (21 of 23 Egerton Road) gevestig – ek meen dit was min of meer in 1950. Van daar af het ons verhuis na die plaas “Bonnievale” – so 20 km van Kimberley maar weer in die Boshof distrik gelee.  My Pa dan ook in sowat 1955 vir my Ma ‘n bloemiste winkel met die naam “Cottys” op Kimberley gekoop waar sy die pragtigste rangskikkings vir troues, begrafnisse ens gedoen het.

 

My broer Pieter Emelius (noemnaam EMEL) het op Christian Brothers College op Kimberley skoolgegaan en is later met ‘n weduwee JOHANNA MORBY (Joan – ‘n lieflike mens en die suster wat ek nooit gehad het nie) van Barkley-Wes getroud wat twee dogters gehad het nl LILENE en MICHELLE. Hulle het hulle self gevestig op my vader se plaas “Bonnievale” (net toevallig die naam van die area waar my voorouers in die Wes-Kaap geboer het) Emel was ‘n baie goeie rugbyspeler en ‘n baie populere lid van die gemeenskap. Hy was ‘n “hero” figuur vir my – ek het hom so bewonder maar ek glo nie die emosie was weerkerend nie! (Daar was natuurlik ‘n 10 jaar verskil in ons ouderdomme) Emel het na ‘n paar jaar baie emosionele probleme ontwikkel – baie kere net verdwyn van die plaas af, vir maande lank geswerf en dan skielik weer teruggekeer.(Joan kan dalk hier baie meer akkurate informasie en datums verskaf) My ouers het maar die doen en late baie swaar verwerk – ek neem aan dat daar maar baie wrywing op die plaas was tussen hom en my vader en ek glo dat my moeder maar die salf tussen hulle twee was. My geliefde broer het op 28 jarige leeftyd selfmoord gepleeg deur himself te vergas naby Tabankulu in die Transkei – ‘n tragiese einde aan so ‘n belowende jong man. Dit was natuurlik ‘n geweldige slag vir my ouers – my moeder het voor haar dood op 95 jaar nog steeds van hom gepraat en getreur. Ek mis hom tot vandag toe (ek is nou 65) – ek dink ons sou later goeie vriende sou kon word. My Moeder, Vader en broer is al drie veras en in die “wall of remembrance” by die crematorium in Pietermaritzburg begrawe. Ek was op daardie stadium 18 jaar oud en in die weermag vir my 9-maande opleiding en dit was maar ‘n swaar en emosionele tyd vir ons famielie. Joan is later jare weer getroud met ‘n Huishamen en hulle woon nog steeds op George in die Kaapprovinsie.

 

In die vroee sewentigjare het my ouers besluit om af te tree en toe vir “Bonnievale” verkoop. Hulle het toe na Umhlanga Rocks verhuis (waar ek alreeds gewoon het) en ook ‘n woonstel in die Strand gekoop – winter in Natal – somer in die Kaap – my moeder het baie keer gese dat dit die beste tye van hulle getroude lewe was!

 

At this point I shall change to English for the sake of my English wife as well as our children Leah Helen, Emel Douglas and our little grandson Jack who all now live in the UK. They might find a few surprises in the following. Please forgive the disjointed and rambling account, I write as I remember things.

 

NINTH GENERATION  

Ian van Zyl

 

Christina van Loveren se Kis saam gebring van Holland

Kerk waar Willem & Christina in 1696 getroud is.

 

 

 

 

Related Posts

No Comments

Leave a Comment

Your email address will not be published.